Die afgelope naweek het ek my vriendin, wat al vir ses jaar in Taipei bly, oorreed om 'n slag uit die stad te kom. Ek wou haar 'n dorpie genaamd Chiufen gaan wys. Die ironie is dat die dorpie nie eers 'n uur met die trein uit die grote stad is nie. Dit hang natuurlik af van watter trein jy neem. Ons is heel gemaklik op die vinnige trein daar weg, het sitplekke gehad, koerant, koeldrank, de lot. Met die terugkomslag moes ons in 'n stadige trein staan soos sardientjies ingepak en in medepassasiers se onderarm-oksels vasstaar.
Chiufen is 'n ou myndorpie en van die enigste plekke waar hulle nie die ou historiese karakter verwoes het met aaklige wolkekrabbers en sinkgeboue nie. Volgens my
Lonely Planet was die dorpie in 1930 die goudmyn-hoofstad van Asië en onder Japanese koloniale beheer. Toe die ekonomie in duie stort as gevolg van die goud wat opgeraak het, het mense vir dekades van die plekkie vergeet. Tot op 'n dag wat die filmregisseur, Hsiao-hsien Hou, dit gebruik het as agtergrond vir sy film,
City of Sadness. Deesdae is die dorpie 'n toeristemekka met busse wat op mekaar se sterte op en af deur die heuwels en kronkels ry.
Daar is volop teewinkels om elke hoek en draai.
Die dorpie se mense het intussen ook Engels geleer.
Ek weet nie wat die idee is van die stukkie Hollywood nie, maar dis 'n mooi deur.