Tuesday, February 28, 2006

Die robot, die haardroër en die koihaai

Ek wou nou nie soos 'n ander gewilde blog by die hond vashaak nie, maar ek moes ook vir iets opwindends wag om te gebeur in my lewe. Vandag was wonder bo wonder 'n vakansiedag en ons is die berge in. Wulai, om presies te wees. Daar land ons by 'n koffiewinkel wat allerhande ou goed soos karre vir meubels en dekor gebruik. Dit het my bietjie herinner aan die Museum Shop in Johannesburg en snuffelwinkels in Kalkbaai waar ek my budget al meer as eenkeer op ou plate spandeer het.


Nadat ons gesmul het aan "Beef Noodles" (hulle naam vir lasagne) en Julia en Nelie 'n nat babahondjie met 'n haardroer beetgekry het, het ons spa scouting gaan doen.

Ons kom toe op 'n heerlike en billike spa af met 'n uitsig oor die mistige vallei en ons het in daai water gesit en gemmertee drink tot ons oumenshande gekry het.


Ek het ook die grootste Koivis gesien wat ek ek nog ooit in my lewe gesien het, en dis nie 'n vissermanstorie nie, ek het bewyse! Die vis is oor 'n meter lank en lyk soos 'n klein haai.

Soek vir die grys een regsbo.

Wednesday, February 15, 2006

Liggies en Oorpyn

Daar's niks soos 'n Chinese feestelikheid om mens te herinner dat jy terug is in Taiwan nie. Dit was laasnaweek Lanternfees, wat die viering van Chinese nuwejaar afsluit. Ek is die strate in met my kamera, maar moes eerder oorpluisies saamgevat het. Ek het nog nooit so baie vuurwerke bo, onder, langs en oor my sien afgaan nie. Hier word geen maatreëls teen vuurwerke ingestel nie, of as daar is, word dit glad nie gevolg nie. Ek is seker 'n hele paar kinders het hulle beddens natgemaak of oë en vingers verloor, want ek het 'n klomp snuiters sien vuurwerke aansteek sonder 'n ouer in sig. Gelukkig het ek ook geen bene of arms of duime in die straat sien lê nie. Van strate gepraat, die strate word glad nie toegemaak as daar vuurwerke plaasvind nie, maar die motors ry reg langs dit verby en party mense stuur sommer flares vanuit die karre uit.

Ek het heelwat lekkernye gehad. Hierdie is 'n fresh spring roll of ryspannekoek-agtige bedryf met bean sprouts, groente, en koljaderblare.

Dan is daar ook die deegkoekie-in-vorm-van-'n blom. Niks verrassings soos rooi boontjies in die middel nie.
Daar was hondelanterns orals, aangesien dit die Jaar van die Hond is. Blykbaar koop almal nou klein hondjies hierdie jaar. Ek wonder net wat van die honde gaan word as die gier oor is . Wat gaan hulle volgende jaar doen? Varke koop?

En laastens, die drakedans. Dis ten minste een ding van die Ooste wat ek nog altyd net gerugte van gehoor het en nou vir die eerste keer kon aanskou. Die draak was langer as 50 meter en nogal indrukwekkend.

Monday, February 13, 2006

Die kuier tuis

Ek's pas tuis na 'n kort vakansie in SAfrika en het my gate uit geniet. Ek het onder andere die bynaam "Modjadji" gekry aangesien dit die hele tyd van my besoek in Jo'burg katte en honde gereën het. Ek het met 'n paar van my ou vrinne geconnect en in gevaarlike plekke soos Pombo's, Cresta Bowling Alley en Die Akker uitgehang.

Angola Nel in 'n bar in Albertsville nadat ons mislei is dat Piet Botha daar sou speel, en ons toe net 'n paar muflappe met brandewyn in hulle hande en snorre by die kroegtoonbank gevind het. Die wit bordjies in die agtergrond sê onder meer "Geen Skeltaal Asseblief" en "No manners, no service".


Ek het ook 'n kaapse draai gegooi en gaan inloer by die BALju van "Bal en Klou"-tweedehandse meubelwinkel op Stellenbosch.

Het my vasgeloop in die karnavaljollifikasies en besef dat niks in tien jaar eintlik verander het nie, behalwe dat ek nou 'n digitale kamera het.

Ek het ook gevind dat mens nooit ver genoeg van Taiwan kan wegkom nie.

Sunday, February 12, 2006

Drie Semi-Taiwanese...

... met eg Africana.

die paparazzi slaap nooit nie

Friday, February 03, 2006

watch this spaz

dit tel seker nie dat ek blog as ek nie in asië (of is dit nou suidoos-asië) is nie, maar hou moed, ek is oor 'n week weer terug op my pos.